Quantcast
Channel: Groentegeregte | Maroela Media
Viewing all 81 articles
Browse latest View live

[Resep] Tamatiesop

$
0
0
Foto: Pixabay.com

Tamatiesop. Foto: Pixabay.com

Ons is dankbaar vir elke druppel reën en hoop dit sous sommer die hele naweek lank. Hier is ʼn heerlike resep vir as dit in jou geweste ook nat en koel is.

Genoeg vir vier

Bestanddele:

  • 15 ml olyfolie
  • 25 g botter
  • 1 wortel, geskil, gerasper
  • 1 medium ui, geskil en fyngekap
  • 1 soetrissie, rooi verkieslik, fyngekap
  • 1 selderystengel van 30 cm lank, in fyn wiggies gesny
  • 600 g tamaties, ontvel of geblik
  • 500 ml groenteaftreksel
  • ʼn knippie neutmuskaat
  • ʼn knippie gemaalde gemmer
  • sout en peper na smaak
  • 250 ml room
  • fetakaas vir garnering

Metode:

  1. Verhit olie en botter in ʼn kastrol. Voeg die wortel, ui, soetrissie en seldery by en roerbraai (met toe deksel) vir ongeveer 10 minute tot sag.
  2. Voeg die tamaties en aftreksel by en kook vir 15 minute tot sag.
  3. Puree die mengsel tot baie glad. (Dreineer deur sif vir ekstra gladheid.)
  4. Geur met gemmer en neutmuskaat, sout en peper na smaak. Roer room by en krummel feta oor as garnering.
  5. Bedien die sop warm met snye geroosterde brood.

Bron: Boerekos met ‘n twist/Annelien Pienaar, 2016 


[Resep] Herderspastei met groente

$
0
0
herderspastei-met-groente

Dié herderspastei met groente is ‘n slim manier om te sorg dat die familie groente eet. Foto: Leserskring spogresepte

Catherine Riggien, Prestbury

Lewer 6-8 porsies

Hierdie resep is ’n wonderlike manier om baie groente stilletjies by ’n geurige maaltyd in te sluit. Die hoeveelhede wat hier verskaf word, is genoeg vir ’n gesin, maar jy kan ook die pastei in kleiner individuele houers verdeel.

Bestanddele:

  • 2 botterskorsies, geskil en gekap
  • 500 g groenbone, gesny
  • 6 aartappels, geskil en gekap
  • 30 ml botter of margarien
  • sout en peper
  • olie om te braai
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 wortels, geskil en gerasper
  • 4 murgpampoentjies, gerasper
  • 205 g dwergsampioene, gesny
  • 10 ml fyngedrukte knoffel
  • 500 g beesmaalvleis
  • 10 ml gemengde kruie
  • 25 ml worcestersous
  • 25 ml vrugteblatjang
  • 2 blikke (410 g) gekapte tamaties
  • 1 pakkie (60 g) bruinuiesoppoeier
  • knippie paprika
  • 250 ml cheddarkaas

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
  2. Stoom die botterskorsies tot sag. Verwerk met ’n handmenger tot glad. Voeg ’n bietjie sout by. Sit eenkant.
  3. Kook die gekapte groenbone en aartappels in ’n bietjie water tot sag. Voeg die botter by en maak fyn. Voeg sout en peper na smaak by. Sit eenkant.
  4. Giet die olie in ’n pan en soteer die ui, wortels, murgpampoentjies, sampioene en knoffel liggies.
  5. Haal uit die pan. Plaas die maalvleis in die pan, voeg ’n bietjie sout en die gemengde kruie by en braai tot bruin. Voeg die gesoteerde groente by die maalvleis. Voeg die worcestersous, blatjang en tamaties by.
  6. Kook teen medium hitte vir 15 minute tot die tamatiesap begin wegkook. Voeg die soppoeier by om die maalvleis te verdik en kook vir 5-10 minute. Voeg nog sout en peper by, indien verkies.
  7. Skep die maalvleis in ’n groot, oondvaste skottel. Skep die botterskorsie op die maalvleis en die fyngedrukte groenbone bo-oor. Sprinkel paprika oor en strooi die gerasperde kaas bo-oor. Bak tot goudbruin.

Bron: Leserskring spogresepte
Uitgewer: Human & Rousseau

[Resep] Lamsvleis-en-groentebredie

$
0
0

Jy hoef nie ʼn sjef te wees om dié resep te bemeester nie. Dis doodeenvoudig om aanmekaar te slaan – niemand het lus om op ʼn Dinsdag ure agter die potte te staan nieLamsvleis-en-groentebredie (Foto: Beste uit Vrouekeur, Marlo Kitshoff Carstens, Lapa-uitgewers)

Jy hoef nie ʼn sjef te wees om dié resep te bemeester nie. Dis doodeenvoudig om aanmekaar te slaan.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • olie
  • 800 g lamsvleis, in blokkies gesny
  • 250 ml beesvleisaftreksel
  • 187 ml rooiwyn
  • 2,5 ml gekapte vars knoffel
  • 2,5 ml gedroogde tiemie
  • sout en peper na smaak
  • 1 lourierblaar
  • 7,5 ml Bisto
  • 500 ml botterskorsieblokke
  • 250 ml patatblokkies
  • 250 ml gekapte seldery
  • 1 ui, in ringe gesny
  • 125 ml suurroom

Metode:

  1. Verhit olie en braai die vleis in sarsies bruin.
  2. Voeg die aftreksel, rooiwyn, knoffel, tiemie, sout, peper en lourierblaar by. Bedek en laat prut 2 uur lank tot sag. Haal die lourierblaar uit.
  3. Maak die Bisto met ʼn bietjie water aan en roer dit by.
  4. Voeg die botterskorsie, patat, seldery en ui by. Plaas die deksel op en laat prut nog 45 minute.
  5. Verwyder van die hitte, roer deur en skep die suurroom bo-op.
  6. Sit dit dadelik voor.

Uit: Beste uit Vrouekeur, Marlo Kitshoff Carstens, Lapa-uitgewers

[Resep] Gebakte botterskorsie

$
0
0

Gebakte botterskorsie (Foto: Trooskos, Clover, Lapa-uitgewers.)

Gebakte botterskorsie is nie net maklik om voor te berei nie, maar ook heerlik op ʼn wintersaand wanneer jy net nie weet wát om vir jou gesin voor te sit nie.

Lewer 4 tot 8 porsies

Bestanddele

  • 2 klein botterskorsies
  • 45 g koue Clover Mooi River-botter, in blokkies gesny
  • 4 kardemompeule, geskeur
  • 2 steranyssade
  • 1 kaneelstokkie
  • 80 ml Clover Krush (enige geur)
  • 60 ml esdoringstroop (of esdoring-gegeurde stroop)
  • 5 ml gemaalde kaneel

Metode

Voorverhit die oond tot 200 °C. Sny die botterskorsies in die helfte deur en skep die sade uit. Plaas die botterskorsiehelftes in ʼn oondvaste bak en stip met die botter. Strooi die kardemom en steranys oor en sit die kaneelstokkie by. Meng die sap, stroop en gemaalde kaneel saam en giet oor die botterskorsies.

Bedek die bak met aluminiumfoelie en bak 35 tot 45 minute of tot sag.

Bron: Trooskos, Clover, Lapa-uitgewers.

[Resep] Geroosterde groente-en-koeskoesslaai

$
0
0

(Foto: Gesonde Kosblikke, Lapa-uitgewers, Martie Hofmeyr en Janet Wiegand)

Sodra jy jou eerste happie van dié kleurvolle slaai geëet het, sal al jou vooropgestelde idees van slaai soos mis voor die son verdwyn.

Aantal porsies: 6

Bestanddele

  • ½ klein botterskorsie, in dik vingers gesny
  • 4 jong murgpampoentjies, in die lengte gesny en dan weer gehalveer
  • 2 klein rooi-uie, in wiggies gesny
  • 250 ml blomkoolstukkies, in die helfte gesny
  • 15 ml makadamia-, olyf- of kanola-olie
  • 30 ml suurlemoensap
  • 2,5 ml sout
  • 1,25 ml swartpeper
  • 5 ml gemengde kruie (droog of vars)
  • 250 ml rou lae-GI-koeskoes*
  • 250 ml kookwater
  • 15 ml groente-aftrekselpoeier
  • 30 ml gekapte vars pepermentblare
  • 30 ml gekapte vars koljander
  • 125 ml fetakaasblokkies
  • 60 ml fyngesnyde songedroogde tamaties

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Rangskik die groente in ʼn oondbak.
  2. Meng die olie, suurlemoensap, sout, peper en gemengde kruie en drup oor die groente.
  3. Bak ongeveer 30 minute tot gaar maar steeds ferm. Roer af en toe. Maak intussen die koeskoes. Plaas die koeskoes in ʼn oondvaste bak of kastrol.
  4. Los die groente-aftrekselpoeier in die kookwater op en giet oor. Bedek en laat staan ongeveer 10 minute. Gebruik ʼn vurk om die korrels los te maak.
  5. Meng die pepermentblare en koljander met die gaar groente. Skep die groente op die koeskoes. Sprinkel die fetakaas en songedroogde tamaties bo-oor.

[Resep] Pampoenkoekies met karamelsous

$
0
0

(Foto: Lapa uitgewers)

Pampoenkoekies met karamelsous – soos jou ouma dit gemaak het.

Bestanddele:

Pampoenkoekies

  • 250 ml koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • ’n knippie sout
  • 30 ml suiker
  • 2 eiers
  • 30 ml Clover-volroommelk
  • 250 ml koue gaar pampoen, fyngemaak
  • 750 ml olie vir diepvetbraai

Karamelsous

  • 250 ml suiker
  • 60 ml Clover Mooiriver-botter
  • 250 ml water
  • 250 Clover-volroommelk
  • 25 ml vlapoeier

Metode:

Pampoenkoekies

  1. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Roer die suiker by.
  2. Klits die eiers en melk saam tot gemeng. Roer dit by die pampoenmoes totgoed gemeng
  3. Roer die pampoenmengsel by die meelmengsel.
  4. Verhit die olie en braai lepelsvol beslag daarin tot goudbruin.
  5. Plaas die pampoenkoekies op kombuispapier om oortollige olie te absorbeer.

Karamelsous

  1. Braai die suiker en botter in ’n dikboomkastrol tot goudbruin.
  2. Roer die water stadig by en roer tot die karamel gesmelt is. Roer die melk stadig by.
  3. Maak die vlapoeier met ’n bietjie water aan tot ’n pasta en roer dit by die sous.
  4. Verhit dit tot die sous verdik – ongeveer 3 minute. Verwyder dit van die hitte sodra borrels vorm.
  5. Sit die sous saam met die pampoenkoekies voor.

[Resep] Koeskoes en botterskorsie

$
0
0

Koeskoes en botterskorsie (Foto: Lapa-uitgewers)

Die resep is perfek vir ʼn ligte ete óf as bykos saam met braaivleis.

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 1 kg botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 30 ml (2 e) olie
  • 2,5 ml (½ t) fyn kaneel
  • knypie sout
  • 60 ml (4 e) strooisuiker
  • bietjie olie
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
  • 15 ml (1 e) gekapte vars pietersielie
  • 4 grasuie, fyngekap
  • 125 ml (½ k) sultanas
  • 100 g (1 pakkie) gevlokte amandels
  • 100 g (1 pakkie) pekanneute, grofgekap

Koeskoes

  • 500 g (1 pakkie) koeskoes
  • 2,5 ml (½ t) fyn kaneel
  • knypie borrie
  • 500 ml (2 k) kokende hoenderaftreksel
  • 20 ml (4 t) botter

Metode:

Stel oond op 180 °C.

  1. Plaas botterskorsie in oondpan en sprinkel olie bo-oor. Meng goed. Bak vir 20 minute of tot botterskorsie net sag is.
  2. Sprinkel kaneel, sout en strooisuiker bo-oor sodra botterskorsie uit oond kom. Roer liggies deur.
  3. Verhit olie en soteer ui daarin tot net sag. Voeg soetrissie by en soteer nog bietjie.
  4. Voeg pietersielie, grasuie, sultanas, amandels en neute by. Soteer nog bietjie.
  5. Verwyder van hitte en roer by botterskorsie.

Koeskoes

  1. Roer koeskoes, kaneel en borrie by kokende aftreksel en laat vir ongeveer 10 minute staan tot koeskoes uitgeswel is.
  2. Voeg botter by en roer met vurk tot korreltjies los van mekaar is.
  3. Skep koeskoes in geskikte opdienbak en skep botterskorsiemengsel bo-op. Sit louwarm voor.

 

  • BronVinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur 3
  • UitgewerLapa

[Resep] Hoender-en-gortsop

$
0
0

Hoender-en-gortsop en volkoringdrupskons met Pink Lady®-appels (Foto: Verskaf)

Hier is twee resepte waarvan jou gesin beslis baie gaan hou. Hoendersop is mos kos vir liggaam en siel en as dit boonop lekker dik, vullend en voedsaam is, soveel te beter. Die kombinasie van groente, gort en hoender is baie lekker en dis sommer klaar ’n ete-in-een – perfek vir ’n koue aand.

Die skonsresep is eintlik ’n drupskons waarvan die deeg sommer met ’n lepel op die bakplaat geskep word. Jy hoef nie te sukkel met ’n meer delikate deeg wat uitgerol en uitgedruk moet word nie. Die karringmelk in die resep gee dit ’n baie lekker smaak en tekstuur en om dit so ʼn bietjie anders te maak, is daar blokkies vars appel in die deeg wat dit ’n heerlike soet smaak gee. Sit die skons warm uit die oond met ’n smeerseltjie botter en gerasperde wit cheddarkaas voor en bederf almal met die lekker gebakkies.

Resep uit Cooking from the Heart 3

Lewer 4 porsies

Bestanddele:

  • 20 ml (4 t) olyf- of avokado-olie
  • 3 hoenderborsies aan die been, vel en oortollige vet verwyder
  • 2 uie, gekap
  • 4 wortels, geskil en in blokkies gesny
  • 4 selderystingels met die blare, gekap
  • 4 murgpampoentjies, in blokkies gesny
  • 2 liter (8 k) sterk rooibostee
  • 250 ml (1 k) water
  • 5 takkies vars roosmaryn
  • 2 lourierblare
  • 250 ml (1 k) rou gort
  • 1,2 ml (¼ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 45 ml (3 e) gekapte vars pietersielie

Metode:

  1. Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol (’n AMC 24 cm High is ʼn lekker grootte). Braai hoender tot goudbruin, maar nie gaar nie. Skep uit.
  2. Soteer die uie, wortels, seldery en murgpampoentjies in dieselfde kastrol tot verbruin.
  3. Voeg hoender, tee, water, roosmaryn, lourierblare, gort en sout by. Verlaag die hitte. Prut met ’n deksel vir 20 minute of tot die hoender gaar is.
  4. Skep hoender uit. Prut die sop vir nog 40-45 minute of tot die gort sag is.
  5. Ontbeen die hoender en sny die vleis in kleiner stukkies. Roer die hoender weer by die sop sodra die gort gaar is. Geur na smaak met suurlemoensap en peper.
  6. Roer pietersielie by en sit warm voor.

Wenk

Avokado sal lekker saam met die sop wees, veral as jy brood as bykomstigheid by die sop probeer vermy

Volkoringdrupskons met Pink Lady®-appels

Lewer 12 groot of 15-20 kleiner skons

Bestanddele:

  • 560 ml (2¼ k) steengemaalde volkoringmeel
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • 60 ml (60 g) koue botter, in blokkies gesny
  • 1 Pink Lady®-appel met die skil, in klein blokkies gesny
  • 3 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 250 ml (1 k) karringmelk
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 200 °C. Voer twee bakplate met bakpapier uit. Strooi ’n bietjie ekstra meel oor die bakpapier.
  2. Plaas die droë bestanddele in ’n groot mengbak en vryf die botter met jou vingerpunte of met ’n deegsnyer in tot dit soos broodkrummels lyk. Roer die appel by die meelmengsel.
  3. Klits die eiers, karringmelk en vanieljegeursel saam in ’n aparte mengbak.
  4. Giet die vloeistof by die meelmengsel en sny met ’n mes in tot daar nie meer droë bestanddele sigbaar is nie, maar moenie te veel meng nie.
  5. Skep lepelsvol van die beslag op die bakplate. Bak vir 20-25 minute tot goudbruin en gaar.
  6. Sit warm of teen kamertemperatuur met gerasperde wit cheddarkaas voor.

Daar is elke Maandagoggend nog maklike en gesonde resepte vir die hele gesin op #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet kanaal 144. Of volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood om die skakel na elke week se resepte te kry. Of gaan loer op haar webwerf, www.heleenmeyer.co.za, vir daardie en vele ander smullekker idees.

Haar resepteboek, Maak vyf is ook op Maroela Media se e-winkel by https://maroelawinkel.co.za/ beskikbaar.


[Resep] Botterskorsie-&-blomkoolkoekies

$
0
0

Botterskorsie-en-blomkoolkoekies (Foto: Verskaf)

’n Blink idee met ’n bygereg kan ver strek – selfs tot in ’n kosblik. Soms is ’n lekker interessante bygereg net die manier om ’n aandete so ʼn bietjie nuwe woema te gee.

Hierdie resep is ’n kombinasie tussen ’n variasie op kapokaartappels en pampoenkoekies. Kapokaartappels word beslis nie meer net met aartappels gemaak nie. Het jy al patats of botterskorsie probeer? Net so hoef pampoenkoekies nie net met fyngedrukte pampoen gemaak te word nie. My gesin is dol oor pampoenkoekies wat met botterskorsie gemaak word, want dis dikwels soeter en minder waterig.

Probeer gerus ’n kapok wat met botterskorsie en blomkool gemaak is en as jy sommer uit die staanspoor genoeg groente vir kapok met aandete maak, is dit vinnig om die plaatkoekies te braai. Al wat jy nog nodig het, is ’n bietjie volkoringmeel, bakpoeier en eiers en geurmiddels. Jy kan selfs van die begin af die botterskorsie-en-blomkoolkoekies as bygereg maak, want jou gesin gaan dit beslis geniet. Gebruik verskillende geurmiddels met die twee soorte groentes. Vars kruie, neutmuskaat, gemengde speserye, kaneel en selfs paprika sal werk.

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 12 – 15 koekies

Bestanddele:

  • 400 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 200 g blomkool, in klein blommetjies gesny
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 2 takkies vars tiemie
  • 250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel
  • 5 ml (1 t) bakpoeier
  • knippie gemaalde neutmuskaat of gemaalde gemengde speserye
  • 2 ekstragroot Nulaid-eiers, geklits
  • 15 ml (1 e) gekapte vars tiemieblare
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie, vir braai

Metode:

  1. Plaas botterskorsie, blomkool, sout en tiemietakkies in ’n kastrol met sowat 300 ml water. (’n AMC 20 cm Low werk goed). Bring oor matige hitte tot kookpunt, verlaag die hitte en prut vir 20 minute of tot die groente sag is.
  2. Dreineer deeglik. Plaas groente terug in die kastrol op die stoof oor matige hitte en laat vir ’n paar minute stoom om enige ekstra vloeistof uit te kook.
  3. Haal van die hitte af. Druk groente met ’n aartappeldrukker of vurk fyn. Laat ’n paar minute afkoel.
  4. Roer die droë bestanddele en eiers by die groente. Geur met tiemieblare, suurlemoensap en peper. Roer tot ’n beslag vorm.
  5. Verhit ’n dun lagie van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (soos ’n AMC 24 cm Chef’s Pan). Drup lepelsvol van die beslag in die pan en braai aan weerskante tot goudbruin en gaar. Dreineer op kombuispapier. Herhaal met orige olie en beslag.
  6. Sit warm voor as bygereg of pak in ’n kosblik en geniet teen kamertemperatuur.

Kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, kykNET-kanaal 144, vir nog heerlike resepte uit Heleen se kombuis. As jy dit gemis het, kan jy dit op haar nuwe webwerf kry, www.heleenmeyer.co.za of volg haar op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood om die insetsel weer te kyk asook vir nog wenke en resepte om gesond en lekker te eet.

[Resep] Pangebraaide groente met witbone

$
0
0

(Foto: Verskaf)

Groente is veelsydig en kan op soveel maniere ’n opwindende deel van ’n ete word om kleur, tekstuur en genoeg vitamiene en minerale in maaltyd in te sluit. Geroosterde of pangebraaide groente kan op vele maniere gebruik word. Sit dit net so as bygereg voor, meng dit met pasta of couscous of maak dit deel van ʼn slaai-pakkie soos in hierdie resep.

Die slaaipakkies is ’n lekker “vars” idee vir mense wat graag minder stysel wil eet. Vou die geroosterde groente met bone, feta, ’n bietjie pesto en pampoenpitte of sonneblomsade in die slaaiblare toe vir ’n smullekker ete. Die balsamiese asyn en olyfolie in die groente pas perfek by bone en gee die hele gereg ’n Italiaanse gevoel.

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 1

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 30 ml (2 e) avokado- of olyfolie
  • 1 ui, gekap
  • 250 g sampioene, in kwarte gesny (opsioneel)
  • 2 eiervrugte, met die skil in blokkies gesny
  • 4-5 murgpampoentjies, gehalveer en in skyfies gesny
  • 250 g kersietamaties, gehalveer
  • 45 ml (3 e) balsamiese asyn
  • 10 ml (2 t) gedroogde origanum of roosmaryn
  • 1 x 410 g-blik botter- of ander witboontjies, byvoorbeeld “haricot”, gedreineer
  • suurlemoensap, sout en swartpeper na smaak
  • 30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of origanum
  • basiliekruidpesto, feta en pampoensade om mee voor te sit
  • botterslaaiblare om mee voor te sit

Metode:

  1. Voorverhit die helfte van die olie in ’n groot braaipan (gebruik ’n AMC 28 cm Chef’s Pan of Electric Frying Pan om genoeg plek vir alles te hê). Braai ui en sampioene tot gaar en skep uit.
  2. Braai eiervrug in dieselfde pan tot goudbruin en amper gaar. Voeg ’n bietjie meer olie by, indien nodig.
  3. Voeg die res van die olie in die pan en braai murgpampoentjies tot net gaar. Roer die tamaties deur en soteer vir ʼn paar minute.
  4. Skep die ui en sampioene terug in die pan met die balsamiese asyn en gedroogde kruie. Verlaag hitte en prut vir ’n paar minute tot die groente alles gaar is, maar nie pap nie. Sit selfs ’n deksel vir ’n paar minute op as dit nodig is.
  5. Roer bone by en geur na smaak met suurlemoensap, sout en swartpeper. Roer die vars kruie by en sit voor as ’n bygereg of vegetariese ete.
  6. Pak dit so in ’n kosblik: Skep lepelsvol groente op groot botterslaaiblare met basiliekruidpesto, bietjie feta en pampoensade. Vou die slaaiblare soos ’n pakkie om die vulsel.

Wenke

  1. Tuna, oorskiet-hoender of avokado sal ook lekker wees saam met die groente.
  2. As die pan te klein is, werk dit goed om die groente in sarsies te soteer tot dit gaar is en alles dan saam te meng en te geur. Maak veral seker dat die eiervrug gaar is voor die ander sagter groente bygevoeg word.

 

Kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, op kykNet se kanaal 144 waar ek oor smullekker en maklike resepte gesels. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood of besoek my webwerf www.heleenmeyer.co.za as jy hou van lekker kook en eet.

Resep: Lensiekoekies

$
0
0
Vinnig en maklik. Lensiekoekies is ʼn heerlike manier om meer groente in jou dieet in te sluit.

Resep: Lekkerste slaai met lensies en eiervrug

$
0
0
Selfs mense wat nie eintlik opgewonde raak ook lensies of eiervrug nie, is altyd verras oor hoe baie hulle dié slaai geniet.

(Resep) Hap saam met Lochner: Mielieplaatkoekies

$
0
0
Wie hou nou nie van ʼn lekker plaatkoekie nie? Lochner omskep híérdie een in ʼn volledige ontbyt! Kyk hier hoe hy dit doen.

Resep: Pastei met geroosterde groente en feta

$
0
0
ʼn Pastei is altyd ʼn treffer, maar is gewoonlik met vleis gevul. Maak hierdie vegetariese pastei vir ʼn ligter maaltyd wat steeds smullekker is.

Resep: Slaai met botterskorsie en kekerertjies

$
0
0
Dié gereg kan op verskillende maniere gebruik kan word: van ʼn slaai tot ʼn ligte middagete of pak dit selfs in vir ʼn piekniek-ete.

Pampoenmuffins met speserye

$
0
0
Dié muffins is soet en geurig vir die feestyd.

Resep: Pampoen-en-piesangpoffertjies sonder eier

$
0
0
Soos dit ʼn ervare ouma betaam, het ouma Antjie blitsig ʼn plan beraam en haar resep aangepas om eiervry te wees.

Resep: Feestelike slaai met granaat en beet

$
0
0
Hierdie is ’n baie maklike resep en die kleure is ’n lus vir die oog.

Resep-video: Hap saam met Lochner – Imam Bayildi

$
0
0
Hou jy van eiervrug? Beproef dié nuwe resep wat Lochner de Kock in die video maak!

Resep: Geroosterde broccoli-&-blomkoolslaai met kekerertjies

$
0
0
Gee gerus vir broccoli en blomkool ’n splinternuwe baadjie en jou gaste gaan vir seker vir meer vra.
Viewing all 81 articles
Browse latest View live