
Dié herderspastei met groente is ‘n slim manier om te sorg dat die familie groente eet. Foto: Leserskring spogresepte
Catherine Riggien, Prestbury
Lewer 6-8 porsies
Hierdie resep is ’n wonderlike manier om baie groente stilletjies by ’n geurige maaltyd in te sluit. Die hoeveelhede wat hier verskaf word, is genoeg vir ’n gesin, maar jy kan ook die pastei in kleiner individuele houers verdeel.
Bestanddele:
- 2 botterskorsies, geskil en gekap
- 500 g groenbone, gesny
- 6 aartappels, geskil en gekap
- 30 ml botter of margarien
- sout en peper
- olie om te braai
- 1 groot ui, gekap
- 2 wortels, geskil en gerasper
- 4 murgpampoentjies, gerasper
- 205 g dwergsampioene, gesny
- 10 ml fyngedrukte knoffel
- 500 g beesmaalvleis
- 10 ml gemengde kruie
- 25 ml worcestersous
- 25 ml vrugteblatjang
- 2 blikke (410 g) gekapte tamaties
- 1 pakkie (60 g) bruinuiesoppoeier
- knippie paprika
- 250 ml cheddarkaas
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
- Stoom die botterskorsies tot sag. Verwerk met ’n handmenger tot glad. Voeg ’n bietjie sout by. Sit eenkant.
- Kook die gekapte groenbone en aartappels in ’n bietjie water tot sag. Voeg die botter by en maak fyn. Voeg sout en peper na smaak by. Sit eenkant.
- Giet die olie in ’n pan en soteer die ui, wortels, murgpampoentjies, sampioene en knoffel liggies.
- Haal uit die pan. Plaas die maalvleis in die pan, voeg ’n bietjie sout en die gemengde kruie by en braai tot bruin. Voeg die gesoteerde groente by die maalvleis. Voeg die worcestersous, blatjang en tamaties by.
- Kook teen medium hitte vir 15 minute tot die tamatiesap begin wegkook. Voeg die soppoeier by om die maalvleis te verdik en kook vir 5-10 minute. Voeg nog sout en peper by, indien verkies.
- Skep die maalvleis in ’n groot, oondvaste skottel. Skep die botterskorsie op die maalvleis en die fyngedrukte groenbone bo-oor. Sprinkel paprika oor en strooi die gerasperde kaas bo-oor. Bak tot goudbruin.
Bron: Leserskring spogresepte
Uitgewer: Human & Rousseau